Up Tygerbergstreek Wat is Nuut?

Wildtuin Vakansie    
Lede Inligting 200 Rallies in a Row 100 Rallies in a Row Wildtuin Vakansie Veiligheidswenke Advies Friends Day Care TygerBear Streek se Prioriteite

 

horizontal rule

Krugerwildtuin Vakansie

Van ons lede was met 'n onvergeetlike vakansie met die karavane Kruger Wildtuin toe.  Ben en Annatjie Pienaar deel hierdie vakansie met ons.

horizontal rule

Teks en Fotos deur Ben en Annatjie Pienaar
 
(Kliek op die foto om te vergroot)
 
Vroeg die oggend van die 30ste Junie 2004 het ons lank vooruit beplande vakansie na die Kruger Wildtuin gerialiseer.  Twee gesinne (Ben, Annatjie, Barend & Johan Pienaar en Nico, Ilse, Izelle, Sumari & Franco Alberts) gewapen met kameras, verkykers en karavane vol klere en kos het vertrek op 'n onvergeetlike 13 dae vol avontuur en kosbare herinneringe.
 
Volgens ons verontwaardige kinders was 4 dae se ry tot by die Kruger Wildtuin darem veels te lank.  Ons het darem in drie verskillende karavaan parke oornag:
bullet
Dag 1: Kimberley,
bullet
Dag 2: Pienaars Dam, waar die derde gesin (Okkie, Marie, Alberto & Nika Myburgh) ook by ons aangesluit het, en
bullet
Dag 3: Nelspruit.
Ons was deurentyd aangenaam verras met die skoon en netjies ablusiegeriewe!
 
Oppad na Nelspruit het ons by die Sodwala-grotte aangedoen en ook die watervalle by Watervalboven besoek.  Soos egte feesgangers het ons ook "Inniebos" kunstefees op Nelspruit bygewoon.  Voordat ons op die vierde dag (uiteindelik!) die beroemde Kruger Wildtuin deur die Krokodil Hek betree het.  Opwinding was by almal te bespeur toe ons uit ons motors bondel om die vars (daardie dag ook erg warm) lug van die Wildtuin in te asem en om die mans se honger mae te stil.
 
Ons eerste kamp was Onder-Sabie waar ons drie aande oorgebly het.  Vandaar het ons elke dag 'n ander roete gevolg op soek na die "Groot Vyf".  Groot was die opwinding toe ons ons eerste diere gewaar - 'n trop Rooibokke.  Min het ons geweet dat ons om elke hoek en draai en elke bos 'n Rooibok sou sien.  Om Olifante en Kameelperde te sien, was later nie meer so opwindend nie.  Die Luiperd, Buffel en Renoster was egter baie skaam en wou nie sommer hul verskyning maak nie. 
 
Die laaste twee aande het ons in Satara oornag.  Weereens is ons soggens 5 uur uit die bed gejaag sodat ons om 6 uur die diere by die watergate "kon vang".  Met net een dag oor, besluit ons om tot by Skukuza te ry, daar middagete te geniet en dan met 'n ander roete terug tot by Satara te volg.  Met ons terugrit het ons skielik 3 pragtige Buffels langs die pad gewaar.  Ons kon ook Leeus dophou wat aan 'n Kameelperd-karkas vreet.
 
Danksy Nico, kon ons deurlopend met mekaar kommunikeer, deur middel van die tweerigting-radios, wat hy vir ons gereël het.  So kon ons verskeie gebeurlikhede aan mekaar deurgee of sommer net gesels.
 
Te gou het die laaste van die 5 dae in die Wildtuin aangebreek, en het ons die Wildtuin deur die Orpen-hek verlaat oppad na Swadini, waar ons twee dae gebly het.  Daar kon ons 'n bietjie rus en al die stof afskud van die Wildtuin.  Die kinders kon na hartelus in die warm swembad baljaar, trampoline spring, of putt-putt speel.  Daar was ook uurliks georganiseerde aktiwiteite vir kinders en soms ook vir die grootmense.  Vandaar kon ons verskeie besienswaardighede besoek, soos 'n Sywurm-plaas, 'n bootrit op die Blyde Rivier dam, die Eggo-grotte, Burke's Potholes, God's Window, Mac-Mac Watervalle, en die dorpie Pelgrimsrus.  Ongelukkig was dié twee dae te kort vir alles wat 'n mens daar kan doen.
 
Op die Saterdag-oggend (die 11de dag) het die drie gesinne vir twee aande hul eie rigting gegaan (familie verpligtinge) en ooreengekom om die laaste aand (Maandag) van ons toer weer bymekaar te kom om die laaste skof van ons terugrit gesamentlik aan te pak.  Dit was heerlik om ons toer af te sluit in die Karoo Nasionale Park by Beaufort-Wes.
 
Dit was 'n moeë maar hoogs tevrede toergroep wat Dinsdag-middag by hul huise geariveer het met baie herinneringe, baie foto's en baie vuil wasgoed.
 
Ons innige dank aan Nico Alberts, ons toerleier, wat so 'n puik vakansie gereël het.  Al die eer kom ook ons Hemelse Vader toe vir wonderlike weer en 'n voorspoedige reis.
 
Groete
 
Ben & Annatjie Pienaar

horizontal rule

 

Up ]

Stuur e-pos aan Tygerbergstreek Webmeester  met enige vrae of kommentaar ten opsigte van hierdie webtuiste.
Kopiereg © 2004 KSA Tygerbergstreek
Laaste wysiging: January 18, 2012