Up Tygerbergstreek Wat is Nuut?

Hagar se Toer    
Weskus Toer 2004 Parke Toer 2005 N/Kaap Toer 2006 Wildekus Toer 2007 Hagar se Toer Roete 62 Toer

 

horizontal rule

KSA Tygerbergstreek bied aan:

CCSA Tygerberg Region Presents:

Hagar se Streekstoer 2007

Registrasie: Toer No. 04/2007

Sien die Toerverslag van die toer...

horizontal rule

Tygerbergstreek op Toer

29 Junie - 08 Julie 2007

Afstand/Distance ±1505 Km - 9 nagte/nights

horizontal rule

Toerleiers / Tour Guides

Toer Leiers: Hardi & Roline Visser

Hardi & Roline Visser

    Tel.: 021 558 9628

    Fax.: 021 558 9628

    Cell.: 082 561 3469

 

Die Roete vir Hagar se Toer / The Route for Hagar's Tour

Been 1 Winelands N1 Stop - Pine Creek 2 Nagte 425 Km
Been 2 Pine Creek - Jeffreysbaai 2 Nagte 300 Km
Been 3 Jeffreysbaai- Tsitsikama 2 Nagte 125 Km
Been 4 Tsitsikama - Oudtshoorn 1 Nagte 235 Km
Been 5 Oudtshoorn - Montagu 2 Nagte 340 Km
Been 6 Montagu - Kaapstad --- 180 Km

horizontal rule

HäGAR SE TOER

29 JUNIE – 8 JULIE 2007 (TUINROETE)

Teks: Anna Olsen

Hägar is seker spyt dat Toontjies en sy pa saam met Theo die lang toer gedoen het, want die lede is nou so bederf deur hul manier van skryf dat dit moeilik gaan wees om dit wat ons beleef het neer te pen.

 Vrydag:  29 Junie 2007

Sestien gesinne het hierdie kort toer van 10 dae meegemaak.  Pieter Visser (roepnaam: Piet Vis) het gemaak dat Lizel 4h00 moes opstaan om reeds 7h15 op Worcester se Ultra City te wees i.p.v. 08h30 by Wynland Een Stop (Kraaifontein).  Ongelukkig het Kobus en Franci Booysen (Bollie) probleme met hul trekvoertuig opgedoen, en het hulle met hul verkorte weergawe van hul geleende karavaan eers later by die groep op Pine Creek aangesluit.

 Met die bymekaarkom op Worcester met die Paarl en Moorreesburg groepe, is groepfoto’s geneem en laaste reisplanne uitgedeel. Nadat die toerleier, Hardi Visser (Hägar) die seen gevra het op ‘n veilige reis, het die groep om11h35 vertrek.

Almal het piekniekmandjies gepak wat genuttig is op die grasperk voor ‘n plaasstal net voor Buffelsjagsrivier.  Die weer was sonnig en windstil.

 Alles het voorspoedig verloop en met geen pitstoppe verder nie was die aankomstyd 15h30 by Pine Creek, Grootbrakrivier. Dit is ‘n pragtige park met grasperke teenaan die rivier met netjiese ablusiegeriewe (baie warm water). ‘n Groot karavaankring is gevorm met die trekvoertuie buite.  Die agterosse soos Bollie en Rian Visser (Vink) het hier by ons aangesluit. Die weer was mooi, maar koud en groot vure het in die middel van die kring gebrand.

 Elke aand is daar tuisgemaakte likeurs met unieke name en “labels” geniet.  Lede is vooraf deur Roline (Helga) ingelig aangaande hul beurte as boetemeesters en likeuraande. Die eerste aand het Hardi Visser (Hägar) en Chris Thom (Big Daddy) die lede vermaak met o.a. Mangaan likeur, gemaak van mango, en soos Chris opgemerk het, “As ‘n man moet, dan moet hy gaan”.

 Gewoonlik is die droogmaker van die dag, bekroon met ‘n lepel, wat gedra moes word aan ‘n toutjie om die nek, maar weer eens het Hägar getoon dat dit nie ‘n gewone toer is nie. ‘n Koperkleur Hägarkopstuk met horings het tevoorskyn gekom onder groot gelag en is toegeken aan Pieter Visser (Piet Vis) vir die onnodige vroeg opstaan van Lizel en omdat hy by die verkeerde vulstasie gewag het.

Selfs die boeteplaatjies is iets besonders: ‘n Moedelose Hägar agter tralies.

 Saterdag: 30 Junie 2007

Die oggend was steeds nog sonnig, maar die kouefront het ons deur die loop van die laatmiddag ingehaal. Drie van ons lede moes stoei om gebreke te herstel aan hul voertuie en karavane. Danie Bruwer (Danny Boy) moes inderhaas Mosselbaai toe om ‘n battery vir sy bakkie se sleutel (immobiliseerder) te kry en Allen Olsen (Joe) se rooi bus se koppelaar het ingegee.  Groot dank aan Kobus Booysen wat bereid was om die part in Mosselbaai te gaan koop en in te sit.  Arme Danny Boy het heeldag gesukkel om iemand te kry om hom te help en uiteindelik het George Ferreira (Mandela) die probleem opgelos net voor ‘n noodwa opgedaag het om sy bakkie op te laai.

Die klein wieletjie van Pieter Visser se karavaan moes vervang word nadat dit vasgeval het in die dik gras met die regstoot met al die mannekrag.

Roline en Hardi het ons getakseer met melktert vir tee die middag gedeel tussen 3 karavane.

Met die reën die aand is die likeurs geniet onder George en Hanlie Ferreira (Mandela) se tent. George met ‘n koffie likeur en Ananda Visser (Merrie) het ‘n “Bloody Merrie se berry sherry” gehad.  Die Horings is verdien deur Ananda aangesien sy nie die ernstige toets van die radio’s verstaan het nie en nie ‘n grap van die tellery gemaak het.

Net George en Kobus het kans gesien om vure te maak a.g.v. die reën.  Die res het die orige padkos geniet of in braaipanne kos gemaak. Onder Christo en Philna Visser (Robert) se tent het dit jolig gegaan. Met Hardi en Christo se bystand het Allen kos voorberei in ‘n braaipan vir almal wat hul bydrae wou maak. Tjops, wors en oorskiet saam met wyn as sous. Onder groot gelag is telefoontjie gespeel en is Hardi gedoop met botter.  Soos Marius Opperman (Oppies) opgemerk het, al het dit gereën, was dit een van die lekkerste aande.

 Sondag: 1 Julie 2007

Vertrektyd vanaf Pine Creek: 09h30. Met rukke het daar nog ‘n paar buie reën geval. Daar is besluit om deur die Bloukranspas te reis. Die kronkelpas en plantegroei het dit die moeite werd gemaak. Selfs Ananda (Merrie) het opgemerk dat dit nie te moeilik was nie en nou selfs kans sien vir die Himalyas.

By Jeffreysbaai aangekom omstreeks 14h00. ‘n Bietjie winderig en ‘n paar laaste druppels van die toer het geval. Almal kon vure maak en Marius Kuun (Ranger) en Marius Opperman (Oppies) het die likeurs verskaf soos “Dop met ‘n skop”.

Christo Visser het die Horings gekry, omdat hy van Hardi die vorige aand ‘n botterkop gemaak het.

 Maandag:  2 Julie 2007

Rusdag.  Tot die dames en kinders se teleurstelling en die manne se verligting het die nuus soos ‘n veldbrand versprei. DIE BILLABONG FABRIEKSWINKEL IS GESLUIT VANAF SONDAG TOT WOENSDAG. Aangesien die besigheid verkoop is, moes daar voorraad getel word op hierdie dae. Wat ‘n besparing! Ongelukkig vir die mans was daar darem nog steeds ander fabriekswinkels oop soos Jeep, Roxy en Quiksilver wat seker genoeg geld uit ons lede gemaak het.

Danie Bruwer het met sy karavaan se inloopskokbreker ‘n probleem ondervind. Na ‘n lank gewag vir ‘n onderhoudsman, het Danie self die part gaan koop en met die hulp van Rian Visser is die nodige herstelwerk gedoen. Ons moes net keer of Magriet wou ‘n nuwe karavaan koop, omdat sy nie meer kans gesien het vir nat beddegoed van die reën nie. Gelukkig het die reën weggebly vir die res van die toer tot Danie se verligting.

Dit was Bataljon en Linette du Toit (Baffels) met sy “Pappa se doepa” en Nico en Rita van Rensburg se beurt as likeur- en boetemeesters.

Die Horings het gegaan aan “Die Plakkers”, Eddie en Elfrieda de Kock vir die rondskop van Nico se vleisrolletjie.

 Dinsdag:  3 Julie 2007

Vertrek na Tsitsikamma om 09h00 om 125km af te lê.  Aankoms 11h00, maar dit neem ons twee ure om by die hek geholpte te raak. Onder by die kampplek aangekom:  chaos.  ‘n Landsdiensgroep het besluit dat hul staanplek te nat is en het 5 van ons staanplekke beset. Na ‘n lang geheen en weer (wat net ‘n ry moes wees) was almal darem op staanplekke en kon ons, behalwe vir 2 karavane die see en branders op die voorstoep geniet. Die weer was uit die boonste rake en die see op sy mooiste.  Ongelukikig kon die hangbrug nie besigtig word nie as gevolg van ‘n veldbrand.

Een voordeel van ‘n winterkamp:  teen sesuur brand die vure en kan die vrouens en kinders vroeg kos kry en kruip almal vroeër as normaalweg in.

Allen se “Joe se charge” en Vink se likeur is geskink en boetes is uitgedeel.

Danny Boy (Danie Bruwer) het die Horings ontvang vir sy onkunde van die “spanners” se grootte met die herstel van sy karavaan.

 Woensdag:  4 Julie 2007

Dis die mooiste dag en elkeen kry sy eie koers. Daar is selfs dames wat wasgoed was en droogmaak. Danie en Magriet hou piekniek in die Bloukranspas; Eddie en Elfrieda kuier in Plettenbergbaai; Kobus en George vang vis (buite die reservaat); ander bewonder die see; besigtig die groot boom; gooi klippe af by die Stormsrivierbrug en geniet middagete by die Petroport op die dek.

Danie en Magriet se beurt vir die likeur, ‘n heerlike amandel likeur word geskink.  Die Horings gaan aan Franci Booysen omdat sy so swak was van die lag nadat haar vriendin geval het, dat sy haar nie kon help nie.  Skandelik.

 Donderdag:  5 Julie 2007

Ons was jammer om Tsitsikamma te verlaat. Die see was stil en rustig. Pieter en Lizel met klein Jean het besluit om nog ‘n nag oor te bly.

Ons reis het om 09h30 begin en daar is besluit om net na die Tolhek af te draai en deur Nature Valley te gaan. Dit lyk baie soos Bloukranspas. Baie struike en varings en kronkelpad. Ongelukkig kon ons nie Monkeyland, net voor Plettenbergbaai besoek nie, omdat dit baie duur sou wees en is daar voor die hekke omgedraai.

Ons aankomstyd by Oudtshoorn was 14h00 by Klein Plasie. Hier is ‘n baie gesellige sirkel gemaak, so lekker dat niemand verder wou toer nie. Oorspronklik moes ons een nag op Oudtshoorn en twee nagte op Montagu deurbring. Daar is egter so baie besienswaardighede op Oudtshoorn dat daar besluit is op twee nagte.

Tienjaar oue Likeur deur Nico (Lepel) en Lynn de Bruyn word voorsien:  sterk, maar lekker.

Nico het gevoel dat die Horings moes gaan aan Corrie Thom omdat sy al die wandelpaadjies wat hulle aangedurf het by Tsitsikamma met hakskoentjies aangedurf het, en klaargemaak het.

 Vrydag:  6 Julie 2007

‘n Paar gesinne eet ontbyt by die Wimpy, ander doen inkopies en kom 11h30 bymekaar net buite die dorp en besoek die likeurmekka, die Grunheim landgoed. Likeurs van alle geure en witblits word geproe en gekoop. Daarvandaan word die volstruis-; krokkodil- en cheetah plase besoek. Selfs die volstruisbiltong en droëwors by een slaghuis was uitverkoop deur die lede. Ongelukkig was die volstruisslagpale gesluit, omdat dit broeityd is en dan is die volstruisvleis skaars.

By vergadertyd 19h00 word versoek dat dit makliker sal wees om nog ‘n aand by Oudtshoorn te bly, want ‘n kouefront is in aantog vanuit die Kaap. Daar word met Andrew Potgieter gekoukus en die versoek word toegestaan.

Die boetemeesters en likeurverskaffers was Pieter en Lizel Visser met “Vissie Lizzie Fizzy” in ‘n pragtige glasbottel wat soos ‘n vis lyk en Eddie en Elfrieda de Kock se “Amaplotter” roomlikeur.

Die vorige aand by Tsitsikamma het Lizel vir Pieter kort-kort stilgemaak sodat Jean kon slaap, wat veroorsaak het dat sy die Horings ontvang het van Eddie.

 Saterdag:  7 Julie 2007

‘n Heerlike niksdoen dag.  Party gaan ontbyt, party maak ontbyt, dit alles om reg te wees vir die groot rugby om 12h00.  Gelukkig het Marius en Natasha Opperman (Oppies) hul TV en skottel saamgepiekel sodat die manne saam kan kyk terwyl die vrouens in die son sit en brei. Elzeth en haar dogters het op toemaaktyd winkel toe gehaas om wol te koop om mee te doen.

Om die laaste aand te vier het Hardi en Roline as voorgereg hoendervlerkies, worsies en ander lekkernye voorgesit. ‘n Bedankingskaartjie is aan Hardi en Roline oorhandig vir al hul reëlings en geduld met al die voorstelle en veranderings.

Almal het vir oulaas om die vure gesit en die laaste likeur- en boetemeesters was Christo en Philna Visser en Kobus en Franci Booysen met hul room likeure.Net vir haar straf omdat sy so hard aan die toer reëlings gwerk het, het Roline die Horings gekry.

 Sondag:  8 Julie 2007

Die laaste oggend het aangebreek.  Almal stem volmondig saam dat die toer ‘n reuse sukses was en bespiegel reeds ‘n “Weskus” toer volgende jaar. Vir oulaas word daar foto’s geneem, hande gevat en Hardi doen ‘n gebed om dankie te sê dat almal veilig en gesond die toer kon meemaak.

 Die groep vertrek om 09h15 vanuit Oudtshoorn en maak ‘n pitstop by Ladysmith. Net anderkant Ashton, groet die lede wat reguit huistoe is en ‘n paar maak nog ‘n draai by Robertson se “World of Birds”

horizontal rule

 

Up ]

Stuur e-pos aan Tygerbergstreek Webmeester  met enige vrae of kommentaar ten opsigte van hierdie webtuiste.
Kopiereg © 2004 KSA Tygerbergstreek
Laaste wysiging: January 18, 2012